VRAE & ANTWOORDE


V: HOEKOM SKRYF JY SOMS ONDER SKUILNAME?

A: My uitgewer het jare gelede aanbeveel dat ek boeke wat veral op meisies gemik is (byvoorbeeld liefdesverhale) onder ’n skuilnaam publiseer. Meisies hou glo nie daarvan dat ’n mansnaam voorop ’n tipiese “meisieboek” verskyn nie. Dit is hoe Tania Brink en Lize Roux “gebore” is! (Terloops, my uitgewer het Lize Roux se naam uitgedink - ek het gesê ek soek ’n naam met ’n “x” en ’n “z” in.)

 

V: WAT IS JOU GUNSTELINGBOEK WAT JY SELF GESKRYF HET?

A: Dis vir my byna onmoontlik om te sê - dis so goed iemand vra vir jou ma watter van haar kinders is haar gunsteling! Ek het onder meer ’n sagte plekkie vir Liewe land, ’n olifant!, Suurlemoen!, Virus en die Zackie Mostert-reeks. Maar op die oomblik is 'n Goeie dag vir boomklim een van my gunstelinge - dit was 'n verskriklike lekker boek om te skryf.

 

V: WAAR KRY JY IDEES VIR STORIES VANDAAN?

A: Oral! Daar duik gedurig storie-idees in my kop op, hoewel ek nie naastenby genoeg tyd kry om als te skryf nie. Ek kry veral dikwels idees wanneer ek gaan draf of met my hond gaan stap. Ek het byvoorbeeld die idee vir Suurlemoen! gekry een middag toe ek in die parkie naby my huis gaan stap het.

 

V: WIE DOEN JOU ILLUSTRASIES?

A: Verskillende illustreerders. My uitgewer besluit gewoonlik wie die illustrasies vir ’n boek gaan doen. Fantastiese illustreerders soos Maja Sereda, Daniël du Plessis, Chris Venter, Marjorie van Heerden, Karen Ahlschläger, Diek Grobler, Alex van Houwelingen, Sebastien Quevauvilliers, Nicolene Louw, Zunica Joao en Magriet Brink het al van my boeke geïllustreer. 

 

V: KAN EK VIR JOU MY STORIE STUUR OM TE LEES?

A: Nee, ongelukkig nie. As ek almal se stories moet lees wat vir my stories wil aanstuur, sal ek nooit tyd kry vir skryf nie. Ek werk wel by ’n uitgewery en lees baie manuskripte as deel van my werk, so stuur gerus jou storie vir ’n uitgewery soos LAPA Uitgewers.

 

V: SKRYF JY VOLTYDS?

A: Nee, ek werk bedags as uitgewer van kinder- en jeugboeke. Verder skryf ek ook rubrieke en koerant- en tydskrifartikels in my vrye tyd. 

 

Wil jy graag vir Jaco 'n paar vrae vra?  Stuur gerus vir hom e-pos na jaco@jacojacobs.co.za