Jaco Jacobs

Stacks Image 3
Stacks Image 13
Jaco is op ’n Karoodorpie met die naam Carnarvon gebore. Hy was net sewe jaar oud toe hy al sy eerste storie geskryf en geïllustreer het (maar hy sê dit was so simpel dat nie eens sy ma en pa dit wou lees nie). Hy was sy hele skoolloopbaan in die Hoërskool Carnarvon ('n gekombineerde hoër- en laerskool), en in matriek was hy hoofseun (van ’n klas van net 14 matrieks!). Ná skool het hy B.A. Kommunikasiekunde en sy honneurs in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi, voordat hy by Volksblad in Bloemfontein begin werk het, en daarna as uitgewer by ’n bekende uitgewery. Deesdae spits hy hom voltyds op skryf- en vertaalwerk toe. Hy het sy eerste boek, Pretpark, reeds aan die einde van matriek geskryf (hoewel dit eers heelwat later gepubliseer is). Sy eerste boek wat verskyn het, was Troetelgedrog (2001). Sedertdien het hy al meer as 260 boeke vir kleuters, kinders en jong volwassenes geskryf. Hy woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogtertjies, Mia en Emma, drie honde, ’n kat en ’n troetelluislang.

In ’n neutedop

Gunstelinge

* Naam: Jaco Jacobs
* Verjaardag: 22 Februarie
* Tuisdorp: Bloemfontein
* Stokperdjies: Draf, lees, fliek, versamel PEZ-lekkergoedhouers
* Kos: Lasagne
* Plek: Die Karoo
* Superheld: Batman
* Boeke: Hy verslind Stephen King se boeke

Vyf dinge wat jy nie van Jaco geweet het nie

  • Hy ly aan hoogtevrees.
  • Hy kan nie ’n das behoorlik knoop nie.
  • Hy was op skool glad nie sportief nie, maar deesdae is hy mal oor draf - en hy het reeds twee keer die Comrades-ultramarathon voltooi.
  • Sy naam is nie net Jaco Jacobs nie - hy het kleintyd in Jacobsstraat gebly!
  • Hy kan op sy kop staan.

Het jy geweet?

Jaco is die skrywer van meer as 260 boeke. Van sy boeke is al in Engels, Italiaans, Nederlands, Spaans en Sloeweens vertaal.