Jaco Jacobs

Inligting vir skoolprojekte

In kwartaal drie doen duisende Suid-Afrikaanse kinders elke jaar skoolprojekte waarin hulle onder meer navorsing oor skrywers moet doen. Ek weet dit maar alte goed, want elke jaar dié tyd word my onderskeie inmandjies oorstroom met navrae. Dit is natuurlik baie lekker om van jong lesers en aanhangers te hoor - maar die realiteit is ongelukkig dat ek eenvoudig net nie by alles kan uitkom nie. En onderwysers, julle het nogal … e … interessante vrae wat die kinders moet beantwoord. Vrae soos: Wat is jou volle doopname? Watter kleur is jou oë? Wat is jou troeteldiere se name? Wat is jou ma, pa en suster se name en watter werk doen hulle? Wat is vyf dinge wat niemand van jou weet nie? (Urgh. Jammer, maar daar is regtig ook net sóveel dinge wat niemand van my weet nie, hehe!)

Dit raak nogal ietwat oorweldigend, daarom probeer ek elke jaar soveel moontlik inligting op Facebook en hier op my webtuiste plaas, om dit vir kinders, ouders en onderwysers so maklik as moontlik te maak.

Hopelik help hierdie inligting:

Inligting vir skooltake



Wanneer is jy gebore? 22 Februarie 1980
Is Jaco Jacobs jou regte naam? Jip! Dit is nie 'n skuilnaam nie (hoewel ek al onder skuilname geskryf het!). Ons het boonop in Jacobsstraat gebly toe ek 'n kind was - so, ek was Jaco Jacobs van Jacobssstraat!
Waar is jy gebore? Carnarvon in die Karoo.
Het jy broers/susters? Ek het 'n suster, Telana.
Wat is jou ouers se name? Sakkie en Leona Jacobs
In watter skool was jy? Ek was van Sub. A (graad een) tot matriek in die Hoërskool Carnarvon, waar ek in matriek hoofseun was – van ’n klas van net 14 matrieks!
Waar woon jy? Ek woon sedert my studentedae in Bloemfontein.
Wat het jy studeer? Ek het die grade B.A. (Kommunikasiekunde) en my honneursgraad in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein verwerf.
Wanneer het jy begin skryf? Ek het my eerste stories begin skryf toe ek net sewe jaar oud was, maar ek het op hoërskool regtig ernstig begin skryf. Ek het altyd ’n notaboek in my tas saamgedra waarin ek idees vir stories en rympies neergeskryf het. In matriek het ek my eerste kortverhaal aan ’n tydskrif ("Sarie") verkoop, en in die lang Desembervakansie ná my matriekeksamen het ek my eerste boek, Pretpark, geskryf, wat later deur Human & Rousseu gepubliseer is.
Wanneer het jou eerste boek verskyn? Hoewel Pretpark die eerste boek was wat ek geskryf het, was dit nie die eerste boek wat op die rakke verskyn het nie. Troetelgedrog het in 2001 verskyn en was my eerste gepubliseerde boek. Pretpark se publikasieproses het lank geneem, en dit het eers in 2003 verskyn.
Wou jy altyd 'n skrywer geword het? Ek het op hoërskool al geweet ek wil graag eendag 'n skrywer word.
Watter werk sou jy doen as jy nie geskryf het nie? Ek skryf deesdae voltyds, maar ek het vroeër as joernalis by "Volksblad" gewerk en jare lank as uitgewer by LAPA Uitgewers. As my skryfloopbaan nie van die grond af gekom het nie, sou ek waarskynlik in een van dié twee beroepe gebly het.
Hoeveel boeke het jy geskryf? Ek het meer as 260 boeke geskryf - en daar is nog heelwat op pad!
Hoeveel boeke het jy vertaal? Ek het al meer as 320 boeke in Afrikaans vertaal.
Is van jou boeke in ander tale vertaal? Ja, heelwat van my boeke is ook in Engels beskikbaar, onder meer A Good Day for Climbing Trees, Grandpa Zombie, The Bookshop in the Clouds en "A Good Night for Shooting Zombies. Van my boeke is ook al in Nederlands, Italiaans, Spaans en Sloeweens vertaal.
Watter van jou boeke is verfilm? Suurlemoen! en Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word is verfilm – laasgenoemde fliek se titel is "Nul is nie niks nie".
Watter gedigvorme gebruik jy als? Wel, meestal skryf ek sommer net rympies waarin ek my eie rympatroon opmaak. Ek het egter ook al vrye verse geskryf, asook haikoes, limerieke, tankas, cinquains en vormgedigte. Ek het selfs al gedigte geskryf wat presies die teenoorgestelde beteken wanneer jy dit van onder na bo lees. Ek weet nie wat mens dit noem nie - dalk omdopgedigte?
Het jy kinders? Ja, ek is getroud met Elize en ons het twee dogters, Mia en Emma.
Het jy enige troeteldiere? Ja, ons gesin het twee en ’n half honde (die Yorkie, Boo, is so klein dat hy nie as ’n volle hond kan tel nie), ’n kat, twee budjies, 'n papegaai, ’n baarddrakie en drie slange. Die grootste slang, ’n Dumerills-boa met die naam Duma, was ’n verjaardaggeskenk van my vrou en bly in ’n hok in my kantoor.
Wat is jou stokperdjies? Ek versamel PEZ-lekkergoedhouers – daar is reeds meer as 300 verskillendes in my versameling. Ek is ook ’n langafstanddrawwer, wat al ’n hele paar marathons en ultramarathons voltooi het.
Wat is van jou bekendste boeke? Suurlemoen!, ’n Goeie dag vir boomklim, Perfek, Vis & Tjips, Oupa Zombie, Die boekwinkel tussen die wolke, en reekse soos Zackie Mostert, Professor Fungus, Waldo en Minki.
Waar kry jy jou idees? Idees vir stories en rympies is oral om ons – ’n mens moet net leer om mooi op te let. Baie van my stories en rympies dink ek uit terwyl ek soggens baie vroeg gim toe draf.

Gunstelinge:


Superheld: Batman
Superskurk: The Joker
Plek: Die Karoo
Kos: Lasagne
Boek: Ek verslind Stephen King se boeke
Wat is iets wat min mense van jou weet? Hier is ’n paar feite wat jy nie sommer oral gaan raaklees nie:
• Kleintyd het ek en my jonger suster, Telana, ons eie geheime taal opgemaak wat ons vlot kon praat.
• Ek kan op my kop staan.
• Op hoërskool het ek en my pel Pieter ’n poppekas-onderneming begin. Ons het soos narre aangetrek en by kinderpartytjies opgetree met ’n poppekasvertoning wat ek self geskryf het. Ons onderneming het ongelukkig nie baie lank gehou nie; ná die tweede kinderpartytjie het ons moed opgegee, want die kleintjies het ons behoorlik ore aangesit en ons geboelie!
• Toe ek klein was, was dit my groot droom om eendag ’n krokodiltemmer in die sirkus te word. (Ek het darem 'n paar jaar gelede die geleentheid gekry om saam met twee krokodille te duik. Gelukkig was ek in 'n hok, want hulle het nogal honger gelyk!)

Wil jy graag skryf?

Tussen die lyne is 'n praktiese skryfgids vir jongmense (of enige iemand wat graag kreatief wil skryf) waarin ek jou nooi om by my deurmekaar lessenaar in my kantoor met die bloedrooi mure te kom sit … en te skryf! As jy die boek nie by jou naaste boekwinkel kan opspoor nie, bestel dit aanlyn by handelaars soos Graffiti Boekwinkel, Takealot of LAPA Uitgewers.