Jaco Jacobs

Boeke is so DUUR! Of is dit ...?

Hoekom is boeke so duur?
Dis 'n vraag wat ek dikwels hoor.
En ja, dis iets waaroor ek ook soms sug as ek en my eie twee kinders 'n boekwinkel binnestap en almal van ons sien iets waarvan ons hou.
Boeke is nie goedkoop nie.
Maar as 'n mens jare lank as skrywer saam met uitgewers werk - en ook self 'n klompie jare by 'n uitgewery gewerk het, soos ek - begin jy beter verstaan wat die prys van 'n boek alles moet betaal.
Daardie boek wat jy in jou hand vashou, moes by 'n drukkery gedruk word. Die omslag moes deur 'n kunstenaar ontwerp word. Die bladproewe moes deur iemand nagegaan word. Die teks moes deur 'n uitlegkunstenaar op die bladsye uitgelê word. Iemand moes die manuskrip taalkundig versorg en redigeer. Iemand moes die skrywer leiding gee tydens die redigeerproses. Iemand moes sorg dat daardie boek behoorlik bemark word sodat dit in boekwinkels kan kom en jy daarvan kan kennis neem. Iemand moes daardie boek by die boekwinkel kom aflewer. O, en iemand wat daardie boek geskryf het, hoop om op die ou end ook 'n paar rand daaruit te maak.
Dit alles moet betaal word uit die boek wat jy in jou hand vashou.
Mense wat boeke onwettig in PDF-formaat versprei, is besig om Afrikaanse uitgewers dood te whatsapp.
Ek onthou toe ek op universiteit was, het 'n klasmaat op 'n dag by prof. Hennie van Coller, een van ons letterkundedosente, gekla omdat die voorgeskrewe boek so duur was. Sy antwoord was, as ek reg onthou: "Dit is steeds goedkoper as 'n pizza of 'n swak haarsny."
Ek weet my uitgewers probeer dikwels hul bes om veral kinderboeke se pryse so laag as moontlik te hou. Dit is onder meer waarom ek die reeks kortverhaalbundels getiteld
Nagmusiek, Boeliebief, Wurmpastei en Vroteier geskryf het. Elkeen van dié boeke bevat sewe stories. Sewe spokerige stories, sewe snaakse stories, sewe slymerige stories en sewe stink stories. Die soort stories waarop ek self as kind versot was. Dit was ontsaglike groot pret om hierdie vier boeke te skryf. En hulle kos by die meeste boekwinkels R100 elk.
Goedkoper as 'n pizza of 'n swak haarsny.


7Stories

Wil jy graag skryf?

Tussen die lyne is 'n praktiese skryfgids vir jongmense (of enige iemand wat graag kreatief wil skryf) waarin ek jou nooi om by my deurmekaar lessenaar in my kantoor met die bloedrooi mure te kom sit … en te skryf! As jy die boek nie by jou naaste boekwinkel kan opspoor nie, bestel dit aanlyn by handelaars soos Graffiti Boekwinkel, Takealot of LAPA Uitgewers.