Jaco Jacobs

Skryf jy redenaarstoesprake?

Dit is 'n vraag wat ek elke liewe jaar herhaaldelik kry. Die antwoord is eenvoudig: Ja en nee.
Ja, ek skryf redenaarstoesprake, maar net vir my eie dogter, wat 'n ywerige redenaar is.
Nee, ek skryf
glad nie toesprake teen betaling nie.
Soos die deelnemers in
Who Wants to Be a Millionnaire altyd sê: Final answer.
Hoekom nie?
Wel, eerstens omdat ek bloot nie tyd het nie.
En tweedens omdat dit te moeilik is.
Ek ken my kind en weet waarin sy belang stel. So, wanneer dit tyd is vir 'n redenaarskompetisie, gaan sit ons en kyk saam na die temas. Ons gesels daaroor en besluit wat lekker lyk. Dan kies ons saam 'n onderwerp waarvan sy hou en wat vir haar interessant klink. Daarna gesels ons oor die onderwerp: Wat weet sy daarvan? Wat dink sy daaroor? Is dit iets waaroor sy en haar maats al ooit gesels het? Hoe kan ons mense oortuig van wat sy daarvan dink? Wat kan lekker hoofargumente wees?
Eers daarna gaan sit ek en begin vir haar 'n toespraak skryf. (Sy is tans elf jaar oud - wanneer sy 'n bietjie ouer is, gaan ek al hoe meer van die skryfwerk aan háár oorlaat. Ek was self 'n redenaar op skool en moes my eie toesprake skryf. Dit was dalk nie die briljantste toesprake nie, maar ek het veel meer op dié manier geleer.)
En dié proses is waarskynlik die beste raad wat ek enige ouer kan gee wie se kind graag redenaars wil doen.
Werk saam met jou kind aan 'n toespraak. Sodoende skryf 'n mens toesprake wat nie geheel en al uit voeling met jou kind se leef-, taal- en ervaringswêreld is nie, en wat hulle met oortuiging kan lewer.
Sterkte, ek weet dit is glad nie maklik om 'n toespraak te skryf nie.

Wil jy graag skryf?

Tussen die lyne is 'n praktiese skryfgids vir jongmense (of enige iemand wat graag kreatief wil skryf) waarin ek jou nooi om by my deurmekaar lessenaar in my kantoor met die bloedrooi mure te kom sit … en te skryf! As jy die boek nie by jou naaste boekwinkel kan opspoor nie, bestel dit aanlyn by handelaars soos Graffiti Boekwinkel, Takealot of LAPA Uitgewers.